Vrae en Antwoorde

Vir wat is die radio stelsel bedoel?

Die radio stelsel is spesifiek vir die boere-gemeenskap veiligheid, beskerming en plaas kommunikasie bedoel. Hou by etiket en radio prosedures. Daar is ʼn aparte onderwerp hieroor wat jy moet lees. Voorbeelde van tipiese daaglikse gebruik kan die onderstaande insluit:

Jou vrou is in die dorp en laat weet jou op roep kanaal dat sy nou uit die dorp vertrek. 

Jy gaan staan langs die pad met ʼn pap wiel op die witpad en vind uit jou spaarwiel is ook pap en die pomp lê by die huis. 

Jy het iemand wat homself beseer het op die plaas. Jy roep vir hulp op die roep kanaal.

Jy het ʼn plaasbestuurder of plaasbestuurders vir wie jy pligte wil uitdeel. Jy praat op die roep kanaal. As dit n langer geprek word, skakel na die plaaslike area kanaal.

Jy is besig in die landerye en jy sien ʼn verdagte motor oppad na jou huis toe. Jy kan jou vrou op die roep kanaal roep om versigtig te wees. Sy kan dan bevestig kort daarna dat alles in orde is.

Daar is ʼn moeilikheid maker in die Grootdrink winkel. Iemand in die winkel kan op die roep kanaal aankondig dat hulp dadelik nodig is. Lede wat sal reageer kan so bevestig. Die radio se klank kan heel sag gestel word, sodat mense wat antwoord nie sommer gehoor kan word nie. Indien jy nie kan praat nie kan jy ook maar net vir ʼn paar sekondes die PTT knoppie inhou terwyl n gesprek aan die gang is. Dit moet so gedoen word sodat jy nie jou eie lewe in gevaar stel nie.

ʼn Brand ontstaan in ʼn sekere gebied.

Daar is onluste in die gebied en paaie word versper rigting Groblershoop of Upington. Gaan na die “Roep” kanaal en doen die aankondiging daar sodat almal daarvan bewus kan wees.

Jy bedryf ʼn skietbaan en gebruik radios om veiligheid te handhaaf by ʼn oefen sessie.

Onthou dat die volgende voorkeur kry en in die volgende volgorde:
Ernstige nood
Brand
Ander.

Alle radio lede word ook deel van n “Bork Lede” Whatsapp groep. In geval van ernstige gevalle, sal sulke inligting ook daarop geplaas word, net vir in geval iemand dalk nie naby hulle radios was nie.

Vir elke soort gebeurtenis moet daar nog voor ʼn plan opgestel word. Hierdie is maar ʼn handjie vol van moontlike gevalle. As jy n scenario het kan jy dit met ons deel deur die kontak vorm te gebruik.

Vir wat is die radio stelsel nie bedoel nie?

Die radio stelsel is spesifiek vir die boere-gemeenskap veiligheid, beskerming en plaas kommunikasie bedoel. Hou by etiket en radio prosedures. Daar is ʼn aparte onderwerp hieroor wat jy moet lees. Onderstaande is voorbeelde van hoe om nie die stelsel te gebruik nie:

Sekuriteit. Jy paat met die buurman en jy gee hom ʼn wagwoord om jou alarm stelsel aan of af te sit. Moet geen sulke persoonlike inligting oor radio-golwe uitsaai nie.

Vloek. Jy skreeu en vloek nie op hierdie radio netwerk nie.

Respek. Jy het ʼn “issue” met jou buurman en jy praat oor of met hom in ʼn disrespekvolle manier. Jy mag op geen manier die waardigheid van ʼn ander persoon skend nie.

Koekies bak. Jy het die nuutste “Kook & Geniet” resep wat jy met iemand wil deel.

Nuutste liedjie. Jy saai nuutste weergawe van “Boetie gaan border toe” uit.

Vermaak. Geen vorm van vermaak mag uitgesaai word nie.

Gesprek lengtes. Jy hou van praat en praat aan mekaar vir 5 minute of langer en aaneenlopend.

Bedrieglikheid. Geen bedrieglike boodskappe mag uitgesaai word nie.

Dronkenskap. Jy is op ʼn stasie en wil nou met die wêreld praat.

Geweld. Jy mag op geen manier geweld aanwakker of aanhits nie.

Haatspraak. Haatspraak teen enige ras, geloof of geslag word nie toegelaat nie.

Geloofsbrokkies. Nie almal mag deel in jou spesifieke geloofsoortuigings nie en dus word dit nie hier toegelaat nie.

Mayday. Jy roep ʼn “Mayday” uit op die “Roep” kanaal wanneer dit nie werklik ʼn noodgeval of lewensgevaarlik is nie.

Radio veiligheid. Jy besluit om jou waterleiers en dies meer nou radios te gee sodat jy met hulle direk kan praat. Dit word nie toegelaat nie. Geen radio mag die plaas verlaat nie.

Sosiale Media. Jy wil nou hierdie platvorm begin gebruik om jou sosiale netwerk uit te brei. Dit word nie toegelaat nie.

Wat is die radio netwerk reik afstande

Sedert die nuwe antenna uitbreidings het die kwaliteit en reikafstande aansienlik verbeter. Die kaarte hieronder dui nog die oorspronklike reikafstande aan.

Die sein ikoon kleure dui die volgende aan:
Groen - 5W Std Antenna
Geel - 5W met Magmount Antenna
Oranje - RTS Lae krag
Bruin - RTS Medium krag
Rooi - RTS Hoë krag
Swart - Geen comms

Wat is die maandelikse kostes

Standaard Fooi
Tussen 1-3 radios per gesin is R75pm. Daarna R25pm vir elke addisionele radio.


Jy sal ʼn betaling skakel kry per epos vir jou 1ste betaling. Daarna word die bedrag maandeliks outomaties van jou rekening verhaal, op dieselfde dag as jou 1ste betaling. 

As jy klik op die betaling skakel, sal Payfast se betaling skakel oopmaak. Jy vul jou besonderhede in en doen die betaling aanlyn. Die betaling sal op jou staat verskyn as PAYFAST*Bork. Ons word outomaties verwittig van jou betaling, dus hoef jy nie n betaling bewys aan ons te stuur nie.

Jy bank program mag jou dalk vra om die transaksie goed te keur.

Jy sal n epos kry om jou betaling te bevestig.

Kanale uiteensetting

Kanale uiteensetting
Die word opgedeel volgens belange areas. Kanale 1 tot 7 word op alle radios programmeer as standaard vir alle lede.

  • Kanaal 1 - Roep kanaal
  • Kanaal 2 - Groblershoop
  • Kanaal 3 - Byna-Bo
  • Kanaal 4 - Gariep
  • Kanaal 5 - Grootwilg
  • Kanaal 6 - Karos
  • Kanaal 7 - Kleinbegin

Kanaal 1 - Roep
Gebruik jou volle roepsein op hierdie kanaal, bv "Grootwilg Johan"

  • Jou radio moet altyd op Kanaal 1 wees.
  • As jy iemand moet roep. Sodra kontak gemaak is, skakel alby partye na die ooreengekomde area kanaal om die gesprek te hervat as die gesprek langer as 5min sou duur.
  • Van sononder tot sonsopkoms moet die kanaal stil wees, behalwe as ʼn noodgeval ontstaan.


Rowwe area zones kaart

Wat is my roepsein

  • Kanaal 1 - Roep (Jou Area kanaal naam + jou naam) Bv. "Byna-Bo Alvin". Jy kry jou roepsein as jy jou radio ontvang.
  • Op ander kanale - net jou naam is nodig 

Hoe doen ek n radio toets?

As jy n radio toets met iemand wil doen
Dan kan die gesprek so iets wees.

  1. Hein (dit is) Johan. Radio Check, Oor
  2. Johan (dit is) Hein. Hoor jou 4 uit 5, Oor
  3. Hein (dit is) Johan. Hoor jou 5 uit 5. Uit.
  4. Roger.

Hierdie 4 stap proses word baie gebruik in radio kommunikasie, sodat alby partye nie wonder of hy of sy gehoor was nie.

WAT OM NIE TE DOEN NIE
Moet nie net die PTT knoppie druk sonder om iets te sê nie. Dit is nie die regte prosedure nie en dit bevraagteken wie is besig om wat te doen.

Info
Kyk die volgende video by die 26ste minuut oor "Radio Check" vir verdere inligting. Soek vir "Tactics Radio Communication and Operations Code Words, Call Signs and Radio Checks" op YouTube..

Ek het swak opvangs met Kirisun. Wat nou?

Alle radios het ʼn sisteem wat hulle "squelsch" noem. Dit word outomaties op kommersiële radios ge-aktiveer om agtergrond geraas uit te skakel.

Dit mag dan ook so wees dat as die ontvangs sein baie swak is, dat jy dalk niks op jou radio hoor nie. Die oplossing is om tydelik "squelsch" af te sit. Dit word so op die Kirisun hand radios gedoen:

Druk die aangeduide knoppie in en hou hom in totdat jy ʼn gesuis hoor.

Jy behoort nou miskien te kan uitmaak tussendeur die geraas wat dit boodskap is. Om "squelsch" weer af te sit, druk die aangeduide knoppie en hou hom in totdat die gesuis verdwyn.

Onthou dat hoogte jou vriend is. Beweeg na ʼn hoër gebied vir beter ontvangs.

Vanuit huis
Jy is 100% beter af met ʼn j-pole antenna.

Vanuit motorkar
As jy binne die voertuig sit verhoed die konstruksie van jou voertuig dat seine effektief deur jou voertuig gaan. ʼn Magmount antenna is jou oplossing.

Riglyne vir beter kommunikasie met hand radios


1. Staan buite die huis of kar om beter te kan stuur en ontvang, tensy jou hand radio gekoppel is aan 'n eksterne antenna.
2. Indien jy swak gehoor word, hou jou spreekbeurt ('over') kort
3. Praat hard, duidelik en naby aan jou radio se mikrofoon.
4. Wanneer jy wil praat, druk die PTT knoppie, wag 2 sekondes en begin dan praat. Wanneer jy klaar gepraat het, wag weer 2 sekondes en los dan die knoppie. Dit is sodat die herhaler mooi kan oopmaak en kan stuur.
5. Hou die radio gelaai. 'n Pap battery maak dat jy nie ordentlik kan stuur nie.

Opsie as n paal vir jou antenna?

As jou ontvangs goed is net jy net ʼn 3m paal nodig. Iets soos ʼn swembad paal werk goed. Sit n hout lat of ander versterking binne die paal waar jy dit met die u-klampe vasmaak. Dit verhoed dat die aluminium paal buig as jy dit vasmaak.

Die installasie is jou verantwoordelikheid.

Anders:
Gordonia Glass & Aluminium 38mm 6m paal - R635 In.Vat (Mei 2023)
Gordonia Glass & Aluminium 50mm 6m paal - R1,350 In.Vat (Mei 2023)

Bogenoemde moet bestel word en jy gaan kry dit jouself in Upington.

Watter radio stelsels is daar in ons area?

Daar is 3 stelsels tussen Boegoebergdam & Upington, naamlik:

Marnet
Dit werk op ʼn verskillende tipe radio as die van BWV & BORK
Dit is ʼn burgerband stelsel.
Die stelsel woord bedryf deur “General Serve Electronics” in Upington. Fanus is aan bestuur daar.
Daar sal wel 1 of 2 lede wees wat radio's het wat op hierdie stelsel kan inskakel. Sou dit nodig wees kan in nood op BORK die boodskap versprei word.

BWV
Hierdie is Boegoeberg Waterwese se privaat VHF besigheids netwerk.
Dit het ʼn reikafstand vanaf Boegoebergdam tot digby Upington

BORK
Benede-Oranje Radio Klub stelsel sal uiteindelik ten volle aan die gemeenskap behoort.
Die stelsel werk op ICASA geregistreerde frekwensies. Alle radio's sal ook ICASA gesertifiseerd wees. Vir ons is dit belangrik om binne die wet op te tree.
Die uiteindelike beplande gebied wat ons wil dek is die boere gemeenskap tussen Groblershoop en Upington.
ʼn Kaartstelsel sal bepaal watter tipe radio vanuit jou omgewing die beste sal werk.
Binne ons groep is daar mense met tegniese vaardighede, asook ʼn amateur radio operateur. Dit stel ons in staat om sekere tegniese en programmeer funksies lokaal te kan doen. Ons amateur radio operateur stel ons ook in staat om landwyd kommunikasie te hê indien dit nodig sou wees.

Etiket en radio prosedures?

Radio prosedures en Basiese Radio Etiket Reëls

Die internasionale radio taal is Engels. Die meerderheid van ons gebruikers is Afrikaans sprekend, dus sal Afrikaans meestal gebruik word. Engels sprekendes is welkom om Engels te gebruik sou hulle dit so verkies.

Wanneer ʼn twee-rigting gebruik word kan jy nie tegelykertyd praat en luister soos op ʼn foon nie. Wanneer iemand praat, moet jy nie daardie persoon onderbreek nie. Wag tot die gesprek voltooid is voordat jy praat.

Moet nie antwoord as die oproep nie vir jou roepsein is nie. Wag totdat jy jou roepsein hoor voordat jy reageer.

Doen radio toetse weekliks om seker te maak jou radio is in goeie werkende toestand. Die spesifieke weeklikse prosedure sal hier geplaas word.

  • Maak seker jou battery is vol gelaai of dat die kragbron aan is.
  • Stel die volume hoog genoeg om goed te kan hoor.
  • In radio kommunikasie word jy normaalweg nie geroep deur middel van jou naam nie, maar wel deur jou roepsein.
  • Dink vooruit wat jy wil sê voordat jy praat.
  • Dink vooruit vir wie die gesprek bedoel is.
  • Maak seker jou boodskap is kort, presies en so duidelik as moontlik.
  • Vermy langdradige en gekompliseerde sinne. As jou boodskap te lank is, breek die op in korter boodskappe sodat ander ook ʼn geleentheid het om dalk deel te neem.
  • Moet nie afkortings gebruik wat nie deur almal in die groep verstaanbaar is nie.

Goue Reëls van Radio Kommunikasie

  • Duidelikheid. Jou stem moet duidelik wees. Praat ʼn bietjie stadiger as gewoonlik. Praat in ʼn normale toonhoogte. Jy moet nie skreeu nie.
  • Eenvoudigheid. Hou jou boodskap so eenvoudig moontlik sodat die persone wat luister dit maklik kan verstaan.
  • Kortheid. Wees presies en tot die punt.
  • Sekuriteit. Moet nooit vertroulike inligting versend nie. Onthou dat alle frekwensies gedeel word. Geeneen het eksklusiewe gebruik van ʼn frekwensie nie.
  • Vloek. Moet nie enige vulgêre taal gebruik nie.
  • Respek. Alle persone moet ten alle tye met respek hanteer word.

Hoe verduidelik jy seinsterkte?

Ons gebruik hierdie eenvoudige tabel. Ons sê dit 0 uit 5 tot 5 uit 5. 

  • 0 uit 5 - Die gesprek kan nie uitgemaak word nie
  • 1 uit 5 - Jy kan net-net uitmaak wat gesê word, maar was glad nie goed nie
  • 2 uit 5 - Jy kan uitmaak wat gesê word, met bietjie moeite
  • 3 uit 5 - Jy kan duidelik uitmaak wat gesê word. Daar mag dalk ander geraas deurkom
  • 4 uit 5 - Jy hoor helder wat gesê word. Dalk net met ʼn bietjie agtergrond gesuis
  • 5 uit 5 - Die klank is duidelik, helder & perfek. Geen ander geraas was hoorbaar nie

Terme en betekenisse

Radio Check / Radio Toets
What is my signal strength? / Wat is my sein sterkte?

Jy kan iemand se sein duidelikheid & sterkte beskryf deur na die onderstaande tabel te kyk. As voorbeeld “Ek lees jou 5 uit 5”

Go Ahead / Gaan Voort
You are ready to receive the transmission.

Dui aan dat jy gereed is om n boodskap te ontvang.

Stand-by / Staan by
You acknowledge the other party, but I am unable to respond immediately.

Jy erken die ander party se boodskap, maar jy kan nie dadelik daarop antwoord nie.

Roger
Message received and understood.
Boodskap ontvang en verstaan.

Negative / Negatief
Same as “No”
Jou antwoord is “nee”

Affirmative / Reg so
Same as “Yes”.
Dit is reg. Of ek stem saam. Of ek sê “ja”

Say Again / Sê weer
Re-transmit your message.
Herhaal die boodskap.

Over / Oor
Your message is finished & waiting for a response.
Dui aan dat jou boodskap klaar is & dat jy vir terugvoer wag.

Out / Uit
All conversation is finished, the channel is clear for others to use.
Die hele gesprek kom tot einde en die kanaal is nou oop vir ander se gebruik.

Break / Breek
When you need to gather your thoughts for a moment.
Wanneer jy jou boodskap moet onderbreek, dink, en weer voortgaan.

Break, Break, Break
You are interrupting in the middle of communication (when it becomes free) because you have an emergency.
Read you loud and clear

Hoor jou hard en duidelik

Response to “Radio Check”. Means your transmission signal is good. Also, use “Read you 5-by-5.”

Jy kan iemand se sein duidelikheid & sterkte beskryf deur na die onderstaande tabel te kyk. As voorbeeld “Ek lees jou 5 5”

Come in / Kom in
You are asking the other party to acknowledge they hear you.

Jy vra n ander party om te bevestig dat hulle jou kan hoor.

Copy
You understand what was said.

Jy dui aan dat ʼn boodskap verstaan was.

Wilco
Maakso. Ek maak so.
Means “I will comply.”

Ek sal doen soos wat jy gevra het.

I Repeat / Ek herhaal
Used before you repeat something. ex: “I require diesel, I repeat, I need diesel. Over.”

Word gebruik wanneer jy iets wil herhaal.

Disregard last / Ignoneer laaste
Disregard last message

Ignoreer laaste boodskap

To follow / Boodskap volg
When you want someone to respond & get ready to follow and note in detail.

Om iemand se aandag te kry & dalk notas te neem. Dus om iemand gereed te kry.

Hoe lyk die fonetiese alfabet?

Die Fonetiese Alfabet

Alpha, Bravo, Charlie, Delta, Echo, Foxtrot, Golf, Hotel, India, Juliette, Kilo, Lima. Mike, November, Oscar, Papa, Quebec, Romeo, Sierra, Tango, Uniform, Vicor, Whiskey, X-ray, Yankee, Zulu

Hoe begin jy n gesprek?

Volg hierdie stappe om ʼn gesprek te begin
Luister & kyk eerstens of die kanaal nie in gebruik is nie.

  • Druk PTT (Push-to-Talk) knoppie
  • Wag n sekond of twee
  • Sê die ontvanger se roepsein
  • Volg dit met “dit is” en jou roepsein
  • Sodra die ander persoon antwoord kan jy maar jou boodskap deurgee.

Roepseine word verwag op die "Roep" kanaal. Skakel dan dadelik oor na die ooreengekomde area kanaal as dit n langer as 5min gesprek gaan wees. Praat dan heen en weer nadat kontak gemaak is.

Hoe maak jy n nood oproep?

Indien jy ʼn noodgeval het en ʼn boodskap moet deurgee is die prosedure as volg:

  • As die kanaal beskikbaar is kan jy jou boodskap deurgee.
  • Indien die kanaal besig is, luister en wag totdat jy die woord “Over” of “Oor” hoor. (Of die Roger toon)
  • Druk PTT en sê “Break, Break, Break”, jou roepsein, ek het n nood boodskap vir roepsein. “Bevestig ontvangs, Oor” of “Do you copy, Over”
  • Vir ernstige noodgevalle kan jy n spesiale nood-klank uitsaai om aandag te trek.

Kan ek noodgeval klanke gebruik?

Jy kan die onderstaande nood klanke na jou loopfoon aflaai. Jy kan dit gebruik om ʼn aanduiding te gee aan almal op die radio oop kanaal wat die tipe noodgeval is. Dit sal dan dadelik almal se aandag trek.

Toets eers die klank sterkte op jou loopfoon. Wanneer jy gereed is, druk die PTT knoppie & speel die klank, gevolg deur jou boodskap.

Ons hou die nood klanke beperk tot die onderstaande asseblief. Gebruik asseblief net in werklike noodgevalle.

Polisie Sirene
Jy kan hierdie polisie sirene byvoorbeeld gebruik as daar ʼn inbraak of ʼn stelery aan die gang is.

Ambulans Sirene
Jy kan hierdie ambulans sirene byvoorbeeld gebruik as daar ʼn mediese noodgeval is. Klik op hierdie skakel - https://pixabay.com/sound-effects/ambulance-6399/

Vuur Sirene
Jy kan hierdie vuur sirene byvoorbeeld gebruik as daar ʼn huis of veld aan die brand is. Klik op hierdie skakel - https://pixabay.com/sound-effects/fire-alarm-in-a-deeply-reverberant-space-55220/

Aankondiging
Jy kan hierdie aankondiging klank byvoorbeeld gebruik vir enige ander noodgeval. Klik op hierdie skakel - https://pixabay.com/sound-effects/call-to-attention-123107/

Wat gebeur as ek vehuis?

Die BORK radio's is kommersiële VHF radio's. As u na ʼn ander gebied verhuis, dan kan hierdie radio's deur ʼn radio-handelaar op alternatiewe frekwensies ingestel word. Dus is jou belegging in VHF radio's ʼn veilige opsie. Voordat u na ʼn ander gebied vertrek moet die radio deur ons verander word na fabriek weergawe en moet ons frekwensies van die radio's verwyder word.

Kommentaar